Orania Oogkundiges en die Orania Sakekamer:
Instellings speel ʼn belangrike rol in enige ekonomie, en wanneer ekonomiese groei spesifiek oorweeg word, is dit goed om te verstaan wat die rol van ʼn plaaslike sakekamer is en waar hy in die ekonomie gesetel is. Die primêre rol van ʼn sakekamer behoort eenvoudig die ondersteuning van plaaslike ekonomiese ontwikkeling te wees. Daar is natuurlik verskeie wyses waarop ʼn sakekamer plaaslike ekonomiese ontwikkeling kan help stimuleer, maar dit word alles op hoofsaaklik drie funksies geskoei en geskied binne die konteks van ʼn organisasie wat sy lede dien.
Die drie kern funksies van die Orania Sakekamer is: 1) die bystaan en ondersteuning van lede deur middel van inligting, leiding en bemagtiging, 2) die aanmoediging van entrepreneurskap in die dorp, en 3) om kleinsake-ondernemings te help ontwikkel aangesien hulle gesamentlik die grootste skeppers van werksgeleenthede is. Daar is ongeveer vier areas waarop die Sakekamer fokus ten einde bogenoemde funksies te verrig:
Nuwe geleenthede is waarskynlik een van die belangrikste elemente van ʼn groeiende ekonomie. Daarsonder stagneer besighede en word dieselfde armoede basies net gesirkuleer binne die ekonomie. Die Orania Sakekamer het ʼn bepaalde verantwoordelikheid om sy bestaande en voornemende lede by te staan wat nuwe geleenthede aanbetref.
Opleiding is een van die waardevolste wyses waarop die Sakekamer Orania-besighede se doeltreffendheid volhoubaar kan bevorder. Ons hoor almal gereeld by suksesvolle sakepersone dat wie jy ken belangriker is as dit wat jy weet.
Besigheidstransaksies word telkens beplan of beklink by netwerkgeleenthede. Die Sakekamer doen daarom baie werk om sy lede met mekaar in verbinding te stel en geleentheid hiervoor te skep. Ons maandelikse Sakeontbyt is een van die inisiatiewe wat ons van stapel gestuur het juis om die sakegemeenskap van Orania met mekaar te laat bande smee.
Die laaste belangrike wyse waarop die Sakekamer plaaslike ekonomiese groei ondersteun, is om as spreekbuis namens die sakegemeenskap op te tree tydens skakeling met organisasies van buite Orania, die plaaslike owerheid en ander instellings.
Orania Oogkundiges is ‘n trotse lid van die Sakekamer.