Orania Oogkundiges en die Orania Beweging:

“maar ons sien bietjie verder…” Sluit ek die sin. Ek staan in ‘n warm gesprek met ‘n volksgenoot oor Orania, Pretoria, Oom Paul en ons toekoms. Vir meeste mense is daar slegs twee opsies: Hoër mure en hoop en bid, of die vliegtuig oor die waters. Die volksgenoot se kaartjie is gekoop, hy en sy mensies gaan oor die water ‘n nuwe lewe soek. Hulle trek. “Orania het nie plek vir my nie…” Ek hakkel, want hy is dalk reg. Vir baie spesialiste is Orania nie volhoubaar nie, hy sou anders moes dink oor lewe, om hier te kom vestig. “Maar die toekoms? Ons Volk? Jy besef dat jou kinders klein Australiërs gaan word.” Hy knik instemmend. Koste wat hy en sy vrou reeds verreken het. Ek het simpatie, Afrika is maar rof. Ek pleit: “Jy besef dat die room van ons volk deur ander empaaiers afgeskep word?” Hy knik. “en dat ons armer is sonder ons mense?” Hy knik. U sien, Orania het 2020 visie. Ons sien duidelik hoe al die dinge uitspeel, ons sien hoe SA verval en ons volk op die rantjie van uitwissing kantel. Maar ons bou voort, in die geloof dat God, wat ons hier kom plant het, ons ook sal onderhou. Ons 2020 visie is een van geloof, en een van plek vir ons mense. “Jy gaan steeds betrokke bly?” Hy aarsel, want sy egskeidingsdokument met RSA is klaar geteken, maar mens bedank nie uit ‘n volk uit nie. Jy bly volk. “Ek sal lid word by die Orania Beweging, en miskien eendag, hopelik eendag, lei my paaie terug huis toe.

Nota deur Orania Oogkundiges:
Volksgenote regoor Suid-Afrika behoort aan te sluit by die Orania Beweging en so elkeen op sy eie manier, ‘n bydrae tot Orania te lewer. Dit is egter vir ons as inwoners van hierdie mooi dorp, ook belangrik om as lede by die Beweging aan te sluit en hul hande sterker te maak. Saam bou ons ons stad.