Orania Oogkundiges en Bo-Karoo Opleiding:

Bo-Karoo Opleiding beskik oor die regte kultuur, ligging, infrastruktuur en kundigheid om in die nabye toekoms verder te groei tot een van die voorkeur opleidingsinstansies vir jong Afrikaner studente.

Vir matrikulante wat hulself wil bekwaam as ambagsman of boerderybestuurder, bied BKO die geleentheid om ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in ʼn landelike omgewing te kan kom verwerf. BKO bied egter veel meer as bloot ʼn tegniese opleiding van ʼn uitnemende akademiese standaard. Op Orania ontvang studente die geleentheid om onbeskaamd hul Afrikanerskap in ʼn Christelike milieu te kan uit leef. Alle opleiding geskied vanuit ʼn Christelike verwysingsraamwerk wat aan studente ʼn vaste fondament bied om hulself vir die uitleef van hul roeping as volwassenes, voor te berei.

Instansies soos kleuterskole, versorgingsentrums en tehuise vir bejaardes het ʼn voortdurende behoefte aan goed opgeleide individue om met die versorging van die babas, kleuters en bejaardes behulpsaam te wees en daarom is daar ook nuwe kursusse in tuisversorging en vroeëkinderontwikkeling. Deur hierdie kwalifikasie spreek BKO nie net ʼn wesenlike nood in die breë Afrikaner gemeenskap aan nie, maar skep dit ook mooi beroepsgeleenthede vir jong Afrikaners.

Die teenwoordigheid van soveel studente op Orania het die dorp se karakter die van ʼn “studentedorp” verander. In lyn hiermee beoog BKO om later vanjaar die eerste “studentespele” vir alle Afrikaanssprekende hoër opleiding instansies te kan aanbied. Daardeur hoop BKO om ʼn groot getal jong Afrikaners byeen te bring om hulle studentelewe op ʼn positiewe opbouende wyse te geniet. Die inwoners van Orania en ander mede-staanders is opgewonde oor hierdie en ander soortgelyke inisiatiewe van BKO. Hulle weet hierdie jong mans en dames die leiers van môre is. Dit is hulle wat moet verseker dat die stryd om behoud van ons Christelik Afrikaner erfenis, hier aan die suidpunt van Afrika, voortgesit en deurgevoer sal word.

Orania Oogkundiges is opgewonde oor die positiewe energie waarmee die studente projekte in die dorp aanpak en ondersteun. Ons kom hulle graag tegemoet deur van tyd tot tyd vir hulle dienste en produkte teen spesiale tariewe te bied.