Waarom Orania Oogkundiges die gebruik van Oras eerder as Rande ondersteun en aanmoedig:
Die Ora is Orania se eie ruilmiddel. Dit is ‘n koepon, gerugsteun deur die Rand en verval elke drie jaar. Oraniërs word aangemoedig om die Ora so veel as moontlik te gebruik aangesien dit ‘n paar baie belangrike voordele vir die dorp inhou:
1) Dit is veilig: Die Oras word slegs in Orania gebruik en aanvaar. Niemand van buite Orania sal dus belangstel om besighede of ‘n individu in Orania van Oras te beroof nie.
2) Muntingswins: Die Ora verval elke 3 jaar en almal het die geleentheid om ou Oras vir nuwes om te ruil tydens die oorgangsperiode tussen reekse. Die Oras wat egter die dorp verlaat het of nooit omgeruil was vir nuwes nie, verval en kan nie weer gebruik word nie. Die Rande wat daardie Oras ondersteun het, lê egter steeds in ‘n trustrekening.
3) Rente: Vir elke Ora in sirkulasie, is daar ‘n Rand in die bank wat rente verdien. Kapitaalvorming vind op hierdie manier plaas op kontant in omloop.